|
Geduldig, soos grond geduldig is draai my drome om twaalf speke diep ritmes van maande en seisoene kerf geërfde patrone in my kop en die vrou in die spieël bespied my onheilspellend Beweeglik, soos water beweeglik is skep my drome visioene: skimme wat stil soos visse skielik onbuigbare dinge word en die vrou in die spieël vloek my plegtig. liggies, soos lug ligloop verdwaal my drome tussen kil bergtoppe of smelt bedompig in die grond in en die vrou in die spieël pas haar gesigte een na die ander aan. Hongerig, soos vuur honger is verorber drome my dag en nag spu ‘n vuurdoop vertederend oor brandstapels en die vrou in die spieël haal haar gesigte een na die ander af. |
|
Vanaand ry die leeu my bloots. As jy mooi kyk, sien jy ons in ‘n warboel van diere en skedels verbyflits. Soek die fletswit van been want almal en alles het tande en angels wat op mekaar sit soos parende tweelinge, behalwe as hulle oop en toe klak in keellose, liplose, tonglose skreeue. Kyk hoe wulps lig ek my angel kyk hoe pik ek prooi na prooi met ’n titseltjie gif. Let op my lustige verorbering; want as jy weer kyk sidder net die dop ligweg in die asem: ’n vreesbevange bok ’n vis wat vlak blink ’n kreef wat skeef-skeef wegskarrel. Kyk mooi, ek word deel van die leeu deel soos ’n sweep deel is van die bul se rug. en ons sidder in verwagting ons sidder vir wat aan die kom is. |
|
Die water krimp laag vir laag klont swart en skubberig selfs die skim van ’n deining verdwyn. Ek soek die spoke van die see in die waterige oë van ou mans. Kyk hoe word die trilpaling beroof van skok verseg die walvis om te paar. Alle visse verloor hulle grate en kyk hoe kleef hulle tande netjies aanmekaar vas. Ek sien beelde van visse opkom uit die see en aan oewers van riviere verstik. |
|
Wanneer die bruin stof van ’n somerdag my en my groen stadig versmoor wanneer riviere kalm en klam in leë seë uitdrup en ywerige vlamme lek aan die murg in my pype of byt aan die harsings in my kop wie sal dán agter my staan bedaard soos ‘n weegskaal om uit die oog van die stilte te sê: ek kén jou en ek kén jou werke. |
Terug na bo | Terug na tuisblad
|
Gered uit ’n bed van water lei ek die aarde nat met water uit my oë. Ek hunker na daardie spoelsel daardie bestaan daardie gesig en ek durf nooi weer omkyk nie. My ontevredenheid hang mistig in die lug my sintuie verdrink in vleisrooi strome en gedurig beloer die albasteroë van die krap my sap roer koud in sy lyf; eendag sal hy sien hoe maalstrome dors gedagtes uit my beendroë skedel suig. |
|
onder die somber oë van bome in rye geplant soos rose puil die lewende arms en koppe van mense uit die grond hoor hoe speel die wind oor hulle hande hoor hoe tokkel hulle vingers met die klank van ’n land vol windharpe hier kan ons asemhaal sê die ronde monde hier kan ons sing oor drome wat altyd waarheid is hier word ons nooit ontwortel nie: ons is die aarde se asem. |
|
die nag bars oor en mors ’n dag vol lig oor ons gesametlike droom jy sien en jy is afsydig wie gaan verslind word en wie verorber wie? want kyk, ’n vaal perd en sy naam is dood my voorwoord is my grafskrif en omgekeerd dit word skielik donker en ek is bang god is nie dood nie, maar wreed |
|
en as ek nou móét doodgaan begrawe my op ’n sandduin tussen bossies met ’n uitsig oor die see ’n liter coke ’n karton sigarette en ’n boek of twee ek is nie baie windmakerig nie maar ’n donskombers en ’n opblaasmatras sal ook welkom wees en anders as die massagrafte by ur of dachau (waar hulle die plek volprop) dink ek ’n graf is ’n private ding en is ek boon-op te egosentries vir ’n grafskrif soos: hier lê piet en jan alleman en sy vrou en ensovoorts ensovoorts buitendien kan ek, wanneer ek eensaam voel altyd by iemand as gas gaan spook |
|
Ek staan met skrefies oë voor die spieël om te kyk hoe ek lyk wanneer ek slaap en ek lyk anders, half dood maar daardie vleis is nog lewendig ’n vinger roer, die ribbes gaan op op en af ek is dieselfde as ek en tog behoort my sintuie nie meer aan my nie miskien slaap ek wel want die lippe in die spieël roer sonder myne en my vriendelike stem sê: jy lyk soos ’n lyk lyk. |
|
Uitgespoeg deur drupnat planete of uitgeskop uit die binnegoed van die aarde nou so driftig vasgeklamp om my voete met die tydlose geduld van getroue honde. Ek behoort klippe nie te wantrou nie behoort klip as klip te aanvaar maar ek hou ’n klip in my vuis teen my oor wag gespanne dat sy slapende asem moet ruis... Ek suig ’n stowwerige klip in my kies, sit op ’n bergklip En ontken ons paring. |
|
Uit die hoogte sien jy: my gesmelte gesig mors bondels onder my kake; my geskroeide hare staan slangetjies orent agter my kop en sis; my lyf is vroom soos gebleikte geraamtes; my delikate vingers tel halssnoere van ribbes. Ek wonder of jy weet mens word mens vanaf die kén boon-toe. En ek het nie meer ’n ken nie. |
|
oor die steentydperk regeer ’n sittende kalklipvrou haar voete en kop is onbenullig klein haar borste en boude sprei wyd van vrugbaarheid haar skoot is ‘n berg: sitplek in heuwel en grot haar skoot is ’n troon wat besitlik bestyg word haar skoot is ’n nedersetting |