Rosa Keet Gedigte: Hier Kan Ons Asemhaal

Uitgegee deur Human en Rousseau 1979













Diereriem: Die sterre voorspel
Geduldig, soos grond geduldig is
draai my drome om twaalf speke
diep ritmes van maande en seisoene
kerf geërfde patrone in my kop

en die vrou in die spieël
bespied my onheilspellend

Beweeglik, soos water beweeglik is
skep my drome visioene:        skimme
wat stil soos visse skielik
onbuigbare dinge word

en die vrou in die spieël
vloek my plegtig.

liggies, soos lug ligloop
verdwaal my drome tussen kil bergtoppe
of smelt bedompig in die grond in

en die vrou in die spieël
pas haar gesigte een na die ander aan.

Hongerig, soos vuur honger is
verorber drome my dag en nag
spu ‘n vuurdoop
vertederend oor brandstapels

en die vrou in die spieël
haal haar gesigte een na die ander af.

Terug na bo | Terug na tuisblad











Diereriem: Vanaand ry die leeu my
Vanaand ry die leeu my
bloots. As jy mooi kyk, sien jy ons in ‘n warboel
van diere en skedels
verbyflits.

Soek die fletswit van been
want almal en alles
het tande en angels
wat op mekaar sit
soos parende tweelinge,
behalwe as hulle oop en toe
klak
in keellose, liplose, tonglose skreeue.
Kyk hoe wulps lig ek my angel
kyk hoe pik ek
prooi na prooi
met ’n titseltjie gif.

Let op my lustige verorbering;
want as jy weer kyk
sidder net die dop
ligweg in die asem:
’n vreesbevange bok
’n vis wat vlak blink
’n kreef wat skeef-skeef wegskarrel.

Kyk mooi, ek word deel van die leeu
deel soos ’n sweep deel is
van die bul se rug.

en ons sidder in verwagting
ons sidder
vir wat aan die kom is.

Terug na bo | Terug na tuisblad

Terug na bo | Terug na tuisblad











Diereriem: Die water krimp laag vir laag
Die water krimp laag vir laag
klont swart en skubberig
selfs die skim van ’n deining verdwyn.

Ek soek die spoke van die see
in die waterige oë
van ou mans.

Kyk hoe word die trilpaling beroof
van skok verseg die walvis
om te paar.

Alle visse verloor hulle grate
en kyk hoe kleef hulle tande
netjies aanmekaar vas.

Ek sien beelde van visse
opkom uit die see
en aan oewers van riviere verstik.

Terug na bo | Terug na tuisblad











Diereriem: Wanneer die bruin stof
Wanneer die bruin stof
van ’n somerdag
my en my groen
stadig versmoor
wanneer riviere kalm en klam
in leë seë uitdrup
en ywerige vlamme lek
aan die murg in my pype
of byt
aan die harsings in my kop

wie sal dán agter my staan
bedaard soos ‘n weegskaal
om uit die oog van die stilte te sê:
ek kén jou           en ek kén jou werke.

Terug na bo | Terug na tuisblad

Terug na bo | Terug na tuisblad











Anima Mundi (Gered uit ’n bed…)
Gered uit ’n bed van water
lei ek die aarde nat
met water uit my oë.

Ek hunker na daardie spoelsel
daardie bestaan daardie gesig
en ek durf nooi weer omkyk nie.

My ontevredenheid hang
mistig in die lug
my sintuie verdrink
in vleisrooi strome

en gedurig beloer
die albasteroë van die krap my
sap roer koud
in sy lyf;

eendag sal hy sien hoe maalstrome
dors gedagtes
uit my beendroë skedel suig.

Terug na bo | Terug na tuisblad











Anima Mundi (Onder die somber oë)
onder die somber oë van bome
in rye geplant soos rose
puil die lewende arms en koppe
van mense uit die grond
hoor hoe speel die wind
oor hulle hande
hoor hoe tokkel hulle vingers
met die klank
van ’n land vol windharpe
hier kan ons asemhaal
sê die ronde monde
hier kan ons sing
oor drome wat altyd waarheid is
hier word ons nooit ontwortel nie:
ons is die aarde se asem.

Terug na bo | Terug na tuisblad











Anima Mundi (Die nag bars oop)
die nag bars oor en mors ’n dag vol lig
oor ons gesametlike droom
jy sien en jy is afsydig

wie gaan verslind word en wie verorber wie?
want kyk, ’n vaal perd
en sy naam is dood

my voorwoord is my grafskrif en omgekeerd
dit word skielik donker en ek is bang
god is nie dood nie, maar wreed

Terug na bo | Terug na tuisblad











’n Private ding
(vir Ann)
en as ek nou móét doodgaan
begrawe my op ’n sandduin
tussen bossies met ’n uitsig oor die see
’n liter coke ’n karton sigarette en ’n boek of twee
ek is nie baie windmakerig nie
maar ’n donskombers en ’n opblaasmatras sal ook welkom wees

en anders as die massagrafte by ur of dachau
(waar hulle die plek volprop)
dink ek ’n graf is ’n private ding
en is ek boon-op te egosentries
vir ’n grafskrif soos:
hier lê piet en jan alleman en sy vrou en ensovoorts ensovoorts
buitendien kan ek, wanneer ek eensaam voel

altyd by iemand as gas gaan spook

Terug na bo | Terug na tuisblad

Terug na bo | Terug na tuisblad











Gewete
Ek staan met skrefies oë voor die spieël
om te kyk hoe ek lyk wanneer ek slaap
en ek lyk anders, half dood
maar daardie vleis is nog lewendig
’n vinger roer, die ribbes gaan op op en af
ek is dieselfde as ek
en tog behoort my sintuie nie meer aan my nie
miskien slaap ek wel
want die lippe in die spieël roer
sonder myne en my vriendelike stem sê:
jy lyk soos ’n lyk lyk.

Terug na bo | Terug na tuisblad

Terug na bo | Terug na tuisblad











Die Klippe sal dán uitroep
Uitgespoeg deur drupnat planete
of uitgeskop uit die binnegoed van die aarde
nou so driftig vasgeklamp om my voete
met die tydlose geduld van getroue honde.
Ek behoort klippe nie te wantrou nie
behoort klip as klip te aanvaar
maar ek hou ’n klip in my vuis teen my oor
wag gespanne dat sy slapende asem moet ruis...
Ek suig ’n stowwerige klip in my kies,
sit op ’n bergklip
En ontken ons paring.

Terug na bo | Terug na tuisblad











Paternoster
Uit die hoogte sien jy:
my gesmelte gesig mors
bondels onder my kake;
my geskroeide hare staan
slangetjies orent
agter my kop en sis;
my lyf is vroom
soos gebleikte geraamtes;
my delikate vingers tel
halssnoere van ribbes.
Ek wonder of jy weet
mens word mens vanaf die kén
boon-toe.
En ek het nie meer ’n ken nie.

Terug na bo | Terug na tuisblad











Matriargie
oor die steentydperk regeer
’n sittende kalklipvrou
haar voete en kop
is onbenullig klein
haar borste en boude sprei wyd
van vrugbaarheid
haar skoot is ‘n berg:
sitplek in heuwel en grot
haar skoot is ’n troon
wat besitlik bestyg word

haar skoot is ’n nedersetting

Terug na bo | Terug na tuisblad