Rosa Keet Gedigte: Boom van Kennis

Uitgegee deur Perskor 1976























Beginvers
Hulle is almal weg nou
die regop gestaltes van die goue ras
om uitgestrek die lang slaap onder sneeu te slaap
tot wanneer hulle weer benodig word
om met ’n enkel asemteug
die wêreld in beweging te bring

in die skoot van die nag lê
die eerste van die eersgeborenes –
die oudste vlam ’n silwer eier wat oopkraak
en vrugbaar reën
oor diep geheime voue reën
van waar dit in riviere vloei
en meerdiep holtes vul
vloei om gras en blomme
en vier seisoene vol te stort

oor te stort in ’n rondloopramlente
volbloedleeusomer bontbulherfs
slangkoudwinter

en die boom van die lewe
met sy sewe takke waaraan
waaraan die mens o so spontaan
die mens as sy beste vrugte groei

o heuning drup uit die bome
o drink die heuning wat drup uit die bome
ons bly ons bly in ‘n byekorfrepubliek
ons eet akkers en bessies
en bokmelkaas
ons word nooit oud nie
ons dans ons lag
al laggende dans ons
ons word nooit oud nie

Terug na bo | Terug na tuisblad











Aanskou die skadu wat hy werp
Aanskou die skadu wat hy werp
o aanskou die beeld van my bruidegom
sy hare is uit die suiwerste goud gekap
en sy oë is gerig op die ooste
asof die son sy persoonlike spieëel is
sy bolyf is bonkig in silwer gesmee
blinkwit sy bors, sy skouers grys
tot waar hy vurk is hy van dowwe brons
glansend geel sy volle heup
sy bene staan vas in die grond gewortel:
twee reguit boomstamme van ysterhout

aanskou die skadu wat hy werp
in die somber oorvloed van donkergroen stilte
dag en nag kom lê beurtelings in sy blare:
hy weet wat in die duisternis is
maar ook die lig woon in hom

by hom sal my dae en nagte stil
soos die oop- en toemaak van ’n droom inmekaarvloei

sy gestalte is my koelte in die somer
my vuurpan vol gloeiende kole in die winter.

Terug na bo | Terug na tuisblad











My pols sing ’n minnelied
My pols sing ’n minnelied
ek sleep vlerk by die sterre
wat in haar oë verskiet

kyk hoe dans my beminde
kyk hoe beweeg die ligroos punte
van haar borste
o kyk hoe swaai haar borste rond
soos twee wit blomme in die nagwind
haar gesig agter die sluier
is blouwit en sag
met die sagtheid van wolke voor die maan
haar nek is ’n melkbosstingel
kleiner as die kring van my hande
maar haar heupe is handvolrond
en handevol haar boude
die donsige ingang na haar geheime lyf
lê donkerig waar haar bene vertak
natwarm palmvol
en polsend in die ritme van haar dans
kyk na die lyne van haar bene
die soepel ronding van haar knie
o kyk hoe dans my beminde

haar gestalte is my koelte in die dag
my vuurpan vol gloeiende kole in die nag

Terug na bo | Terug na tuisblad











Eindvers
Hulle is almal weg nou
om uitgestrek die lang slaap onder sneeu te slaap
diep in die maag van die aarde te slaap
soos ‘n donker ondertoon onder die boom
pen hulle die polswortel vas
die are maaierwit en knoeserig
elke loot ‘n donker noodanker

in die skoot van die dag lê
die laaste van die laasgeborenes –
die jongste vlam
’n silwer paddastoel wat oopkraak
en geweld reën
diep in geheime voue geweld reën
van waar dit riviere stol
en meerdiep holtes vul
vul met verbrande gras en verrotte blomme
vul om net een stom seisoen te stol

en die boom van die dood
met sy sewe takke waaruit
waaruit die mens o so spontaan
die mens al sy kruise sny

o hartseerdag die gal drup uit die bome
o drink die gal wat drup uit die bome
ons bly ons bly in ‘n vuurkolon
ons hande ons bene val af
ons neuse val af
ons word nooit oud nie
ons hardloop ons huil al huilende hardloop ons
ons word nooit oud nie.

Terug na bo | Terug na tuisblad