Rosa Keet Poems: Eendagsvlieg en ander vlietende gedagtes

Inhoud












Eendagsvlieg
Sê nou net ek word gebore
en ek is ’n eendagsvlieg

sou ek wens
dat my vlietende sekondes ure kon wees
of dae of jare?

Sou ek groen van jaloesie word
op mikro-organismes wat drie dae lank leef
sonder om te hoef te soek na ’n maatjie.
(Hoe was gisteraand vir my?
Nee goed en vir my?)

En my niggie die huisvlieg vlieg
’n volle maand lank rond
in ’n magdom vermorsde momente
om te broei in ’n miskoek.

Van aankoms na vertrek
vir naaldekokers
is daar vier propvol maande
waarin hul glinsterend fladder en pronk.

Sou ek meer afgunstig wees
op die duur van hul vlug
of op hul josefskleed?

Vanuit my saamgestelde oogpunt
probeer ek my indink
oor die eindpunt van papegaaie
want daardie termyn sleep een hele een honderd jaar lank verby.

Nie dat ek nou van ’n muggie
’n boeing wil maak nie...

Maar soos die kraai vlieg
is dit die Groot Knal gelede
vir ’n eendagsvlieg.

Terug na bo | Terug na tuisblad

Terug na bo | Terug na tuisblad












Ek het die voëltjie al vroeër hoor fluit...
’n Mossie is - verbatim uit Pharos:
’n geveerde mét vlerke tweebenige
warmbloedige eier-lêende gewerwelde dier.
En les bes 150 miljoen jaar oud.

Jy kan my met ’n veertjie omtik.

Voёlkenners verwys neerhalend na ‘little brown jobs’
so alomteenwoordig en vervuil is hulle
behalwe in Antartika (te koud)
en Londen (reeds uitgesterf).

Maar ons en hulle is voёls van eenderse vere.

Die jaar loop uit en ek voel so dood
soos ’n mossie asof daar grade van dood kan wees
asof ’n mossie meer dood as ’n duif kan wees
of byvoorbeeld dooier as ’n mens.

Terug na bo | Terug na tuisblad

Terug na bo | Terug na tuisblad






















Amphibia
(Vir Jaco)
die nag roer sag
die maan maak ’n kraak —
iets in die donker
wil wakker praat
ek is dubbel, heel en skeef,
ek leef, ek sterf, ek leef
‘n skeur in tyd
gevang
tussen asem en stroom
klak klak in die riete
tussen water en droom

Terug na bo | Terug na tuisblad









Juis nié met ’n knal nie
Dit het Tyrannosaurus Rex
tweehonderdmiljoen jaar geneem
om ’n voël te word
wensbeen en al
geen haan het daaroor gekraai nie
want soms is dit voordelig
vir oorlewing
om klein te wees.

Nou sit ek myself in sy kop en ek dink –
as Oupa Rex vandag
na sy kuikens
in hulle hokke kon kyk
en sien hoe die kolonel
daagliks
in sy kitskoswinkels
minstens
tweehonderd miljoen klein amputasies verkwansel...

Sou hy die geen
in sy oorlewingsplan heroorweeg
en sou hy homself
met ’n helse geskud van vere
van die naaste kerktoring te pletter val.

Terug na bo | Terug na tuisblad











Schrödinger se kat
Eendag lank gelede
amper nog voor felis catus
tot ’n troetelkat getem is
en omdat katte nege lewens het
was daar waarskynlik
ánder hipotetiese katte
in hipotetiese bokse
wat hipoteties beide dood
sowel as lewendig kon wees.

Om te wys hoe gevat ek is
noem ek dit ‘n paradoks in ’n boks
want ek verstaan daar nie ’n snars
of ’n snorbaard van nie.

Om my verwarring te vererger
speel ’n span slim filosowe
sokker met die kat-in-die-boks.

Voor die boks oopmaak word, wonder hulle:
Is hy lewendig? Is hy dood?
Is hy lewendig en dood?

Swyend dink ek - dáárdie kat is voorwaar die moer in
bly weg van sy naels en tande.

Metteryd besef ek:
party dinge pas nie in ’n mensgemaakte kategorie nie

en miskien moet ek minder aandag daaraan gee.

Terug na bo | Terug na tuisblad











Wolf wolf
Sisteme en strukture omring my wêreld
is meestal ordelik in plek en ek
is slaapwandelend afgekamp
soos ʼn wolfhond agter sy warm asem
waar hy voosvoets
al langs die grensdraad aanploeter.

Ek loer oor die skans van my domein
bespied onrustige
hoe realiteit

orals waar en met elke wanneer
verdwyn.

Verstreke tye verstringel in ’n droom
as slaapapnee
my met angstige inademings
opnuut inteuel in die nou.

Hoe laat is dit. Wat het ons hier:
die veldun muur tussen lewe en dood
wat my uit anderkant gryp
en aan hierdie kant terugplak
om verder in my hersenskim te dommel
op ’n tweetonige noot.

Terug na bo | Terug na tuisblad











Kwal triptiek: Daisy de Melker
daar is ’n hele paar van hulle
een en almal moordenaars
doodstil aan’t boemel
van piepklein petieterig
eintlik niks meer as duimnaelgrootte nie
tot gedrogte groter as ’n halwe rugbyveld
hulle plant fluks en lustig voort:
gee skaamteloos voor hulle is vlugtelinge
of verberg hulle indringerstatus
én die feit
dat hulle eintlik
die allerlaaste kranige koloniste is...

hoe dit ook al sy
neem oor deur brute krag van getalle
party roof
ander sit doodgerus en wag
vir die wegneemetes
wat so willekeurig afgelewer word

intussen sal veersagte aanrakings
van venynige suiers jou longspiere aantas
en te laat besef jy
dit is dodelike gif met liefde opgedis.

Terug na bo | Terug na tuisblad

Terug na bo | Terug na tuisblad











Kwal triptiek: Medusa
wie wag hulle kans rustig af
in die ver ver daar onder
waar ’n glim van gelatine-agtige pienk
half deurskynend dril
en waar die wriemelende krulhare
voelers uitsteek om jou aan te raak
en een met klip te maak?
dis visse wat nie visse is nie
skepsels sonder hart of brein of oë
wat al ouer as oud was
lank voor visse begin het
nog steeds blom hulle saad
seisoenloos soos blomme in namakwaland
nie kan namaak nie
aangehelp deur warmer waters
die nonchalansie van meer
bakterieë minder suurstof
nog minder roofvisse
en baie lank ná die einde
sal hulle heel beskeie
die ganslike sirkus weer begin.

Terug na bo | Terug na tuisblad











Kwal triptiek: Jesus
dan is daar ’n afstammeling
van ’n doodeenvoudige organisme
met die vermoë
om homself te herskep
hierdie polietse meneer (of mevrou)
het ’n netjiese tydbom
waarmee sy haarself
kan verdrieduisenddubbel
dieselfde selle vervorm
herhaaldelik van kwal na poliep
die sambreel vou toe en word heel
saam met die tentakels
ingesluk
ma word kind en kind word ma
oor en oor en oor en oor
om nimmereindigend en vir ewig
uit die dood uit op te staan

in daardie geval
net miskien
sal ek eerder vergaan.

Terug na bo | Terug na tuisblad











Stilweg weggesteek
daar’s ‘n noemnaam paniek
in die hoogste tak
een ‘n blou verkleurvrou,
die ander ‘n perspienk kamoefleerqueen,
terwyl hý bloot
’n verkleurmannetjie is,
is sy verkleurmannetjievróutjie
‘n verkleurmannetjiewyfie
en as ek hý was sou ek
suutjies trap
rondom hom haar hulle
wanneer hom haar hulle hom
uitsonderliks
uit elke oog dophou
sonder om ‘n kop te draai
want mevrou verkleurmannetjiewyfie
is ‘n genderfluid reptiel.

Terug na bo | Terug na tuisblad











Nog steeds om die gebeentes
Al is die skelet en skedel meer bestand
teen aanslae van buite as die weekdele alleen
al bly die geraamte oorwegend dieselfde
been van my been.

Al spoeg ek herhaaldelik stukkies uit
verslyt verbrysel en kapot
vir die aasvoëls die tandmuis die graf
in hulle moer in bederf en verrot.

Al versplinter en spat die skerwe uit hul raam
vergeel die kalkwit pitte met tyd
asem ’n klaaglied nou sonder roosmaryn
die gebit verslind met valse byt.

Al raak ek amper te oud vir die daaglikse stryd
watch my maar stip want ewe bedees
eendag nie te ver van nou af nie

gaan ek ’n sexy lyk met ’n passion gap wees.

Terug na bo | Terug na tuisblad

Terug na bo | Terug na tuisblad











Blombosgrot / Blombos Cave
Daar word gesê: toerusting
van hout of been of klip
waarmee ons kon koning kraai
het gelei tot homo habilis

die aap wat kon maak.

Daar word gesê: rotswand tierlanttekens
uit rooi en oker pigmente
waarmee ons beteken is
het gelei tot homo erectus

die aap wat kon praat.

Daar word gesê: kleurvolle halssnoere
van skulp of saad of ivoor
waarmee ons kon pouveer sprei
het gelei tot homo sapiens

die aap wat kon dink.

Daar word gesê: die wêreldwyeweb
vir opgaar van feite en geite en verdraaiings
waarmee ons algoritmies kommunikeer
het gelei to homo sapiens sapiens

die tropdier wat ’n na-aper is.

Terug na bo | Terug na tuisblad

Terug na bo | Terug na tuisblad











Tongval
Om die skat van woorde
uit ’n dooie taal te onsyfer
fynkam die argeoloog
spykerskrifstrepies
op stukkies potskerf
okerrooi gekeep
tussen voormens oorblyfels.

Lewend weet sy
was dit propvol
vernuftige verbindingslyne.

Dood is dit stom
betekenis in sy spoor gestol
of gevul met misverstand
onbereikbaar
nes ’n gewese geliefde.

Vir insig soek sy noukeurig
van links na regs
en andersom.
van bo na onder
en andersom.

Sy is hiper bewus
dat so ‘n artefak ’n kruik
vol simboliese rykdom kan wees
die inskripsie tekenend
van die vrugbare moeder-godin.

Sy wonder opgewonde:
sif sy versigtig deur aanwysing of seremonie?
Is wat sy sien slegs rigtingaangewend?
Of miskien ’n hulproep tot die gode?

Plotseling maak die rekonstruksie sin
sit die betekenis op die punt
van haar tong en sy lees die verlede
letterlik verbatim

en dit sê sedig:

Een kraf varkvet.

Terug na bo | Terug na tuisblad

Terug na bo | Terug na tuisblad











Let's do the timewarp again
Dit slaan my dronk
dat in die reikwydte van tyd
(spring ‘n aks na links)
lank voor ons kan of wil onthou
is rotse gesleep gestoot, gerol
of kon hulle dans?
(trap nou na regs)
kammalielies gevorm deur slawe
met kliphamers en bronsbeitels
(hande op die heupe)
of dalkies gesweef deur reuse
met klankvibrasies en lasers
(knieё styf)
skuifel-skuifel op die plek rus
klip het klip omvou
(stoot die pelvis uit)
om piramides soos velde
van dansende klippe te bou.

In ‘n poging om permanent te bestaan
skryf ons pi in the sky.

Terug na bo | Terug na tuisblad











’n Joyce-op-Facebook-storie
“James Joyce was a synthesizer, trying to bring in as much as he could. I am an analyzer, trying to leave out as much as I can” Samuel Beckett)

Tientalle weergawes van die vier-en twintig uur van hierdie dag
liewe aarde, sou ’n mens kon uitroep: elke sekonde is belangrik!

ons almal noteer ons volgepropte epiese reise:
en toe eet ek ontbyt en toe maak ek reg vir werk en toe gaan stap ek
of slenter rond
en neem ’n selfie
hou myself besig met onbenullighede maar dink aan die lewe en aan almal wat al dood is
sien vreemde dinge op my wandeltog - peusel aan beelde tien van die en tien van daai
dan sommer veertig van die ander
en neem ’n selfie
stop en eet eers iets ligs of maak praatjies oor dit en dat
en dink aan ou en nuwe liefdes droom dagdrome en wonder
wat alles ek nog kan uitblaker
ek gebruik my wapens van massakommunikasie gewoonlik in die oortreffende trap
ek deel my gedagtes by wyse van spraak, skrif en potgooi
en neem ’n selfie

algaande verleer ek om my woorde
versigtig te kies, die gedagtes te rangskik
dus (vir impak) maak ek bykomend ’n grappie aan die einde

en wens dat ek iemand gehad het om ontbyt voor te maak.

Terug na bo | Terug na tuisblad

Terug na bo | Terug na tuisblad











’n Beckett-op-Twitter-storie
Absurd hoe min is nodig om ’n twiet
te toeter. Die kern bly. Veral as jy bywoorde
en vokale vermy en als deurspek
met emoji’s:
*lm*l m*l g*b*r*
S*mm*g* bly m*l

Terug na bo | Terug na tuisblad











Dis onvermydelik
Hier kom die cancel culture
op ’n galop
na die rommelhoop
ek probeer dit beteuel
met kennis met geloof
met stof opskop

maar steek viervoet vas en val
uit die reisies uit.

Ek het my kans reeds gemis
Is klaar die stoffasie
van ’n afvalproduk
nes die organiese reste
wat ten beste slegs bemes.

Dis onvermydelik. Dis natuurkunde.

Die bestaande orde
verwissel beslis na wanorde
as hoop morsig gestroop word
sodat elke einde
in die oortreffende trap begin
om te bind
en te ontbind.

My verspotte kwantumsprong
na onsterflikheid
land my finaal
op ’n mishoop
stort my in die aardskoot
as ’n skeppie humus.

Lank voor Facebook agterkom ek is dood.

Terug na bo | Terug na tuisblad

Terug na bo | Terug na tuisblad











Die Filistyne kom
Die Filistyne kom en Dawid is dood
wie gaan die klip gooi
wie gaan my red
my wêreld word dieper
as die dermis gekwes
stort reusagtig ineen en land
in ’n rojale staat van beleg
die nuwe nou van ’n donker eeu
waar die slinger swaai en swaai
in ’n tweegeveg tussen klein en groot
lewe en dood vetsug en hongersnood.
Die massa wys ’n duisend woke vingers
na arrogante Goliat.
Tientalle vroue skree me too me too
tronk toe met jou.
Hy lag hulle uit en skop
domastrant
’n stofstorm oop.
O Jesaiah. O Jeremia. Die Filistyne kom
en Dawid is dood.

Terug na bo | Terug na tuisblad











Darwin
Ek en alles rondom my stort in duie
dis wreed maar waar.
In duie gestort beteken duidelik
meer as een dui wat gestort het.

Ek glo of eerder
ek het ’n vermoede
dit kan ook dui op die hordes spesies en kulture
wat al in duie gestort het.

’n Geluksalige stortvloed
wat baldadig deur eone stroom
mens en dier en plek en ding
in ewigdurende verdoemenis.

Nie eers Everest is geberg en veilig nie.

Dan eindig ek by ‘n volstrekte oortuiging
dat al hierdie ineenstorting
nog gangbaar sou wees

indien iemand nie my siel
gaan staan en steel het nie.

Terug na bo | Terug na tuisblad











Vader

(Richard Dawkins. “The Selfish Gene.”)

Ek reis agteruit in tyd
anachronisties geplaas voor my pa se geboorte.
Hy lees die kronieke vir my voor want hy kan.
Hy met sy selfsugtige geen is my teelouer.

Hy ruik ’n bietjie af.
Eintlik vrot.
Maar sy sekel blink en hy en sy uurglas lóóp
op soek na kak.

Patriargaal skik hy die toekoms
om weer en weer te gebeur.
Hy is my (en jou) baby daddy
want baba pappa klink darem baie vreemd.

Ou man met sy chroniese kwale
op sy eenrigtingwandelgang
met sy sakke vol dodelike memes
Die wreedste ouer onder die son.

Terug na bo | Terug na tuisblad











Einstein
Tyd, seg die oom,
is wat deur horlosies gemeet word:
dus ’n heel eenvoudige wysneus
met sy regoprugwysers
op weghol na die toekoms.
Tyd vlug (volgens Vergilius)
en ek hol agterna
met my versameling indrukke onder my arm
vreesbevange dat ek op ’n skrikkelsekonde sal uitmis.
Of nog erger – ek sal agterbly.
Ek en hy baklei gedurig
by wyse van spreke
teen integrale transformasie.
Dit is blykbaar terminaal
(volgens Patti Smith).
Ek bekyk myself en wonder
of ek ’n enkele oorspronklike strikvraag het
want al wat ek werklik wil weet is:
En toe?

Terug na bo | Terug na tuisblad











Katie
Katie sing oor die 9 miljoen fietse
in Beijing
lank na feministe reeds besluit het fietse
is nie nodig vir visse nie.
Maar sy tel nie
die kilometers fietse
wat vergete lê en roes
in die fietsbegraafplase
van die wegsmytkultuur nie.
Daar is genoeg fietse
vir elke kind
in die hele wêreld.
Indien die mens mededeelsaam sou wees
indien dit saak sou maak
dat hy glo ’n kind moet ’n fiets hê.
Al het hy nie ’n vis nie.

Terug na bo | Terug na tuisblad

Terug na bo | Terug na tuisblad











'n René Girard Storie
die wêreld is my woning
en ek sit
in die middel
van ‘n mimetiese krisis
en wie se skuld is dit?
nie myne nie
ek boots net na
is bloot ‘n bok
vir sonde
maar daar waar sterre gebore word
het iemand
die lig, die rigting, die orde opgeraap
en met die hele melkweg
spore gemaak

‘n suiwering is nodig
om die lig terug te bring

so wat soek julle by my?
ek sê mos
dis nie my skuld nie.

of perdalks tog
maar net punt nul nul een persent…

Terug na bo | Terug na tuisblad











Betreffende tyd
Ek verstaan die heelal
bestaan uit ruimte
en tyd
klaarblyklike eenhede
met (agter-een-volg-end)
meetbare momente.

Die konsep van oneindige
onbelemmerde melkweë en ligjare
vol ruimte
begryp ek heel maklik:
dit is so orals
dat dit eintlik nêrens is nie.

Maar pynlik gereeld
tob ek oor die verbete
verloop van jare.
Die opstapeling van sekondes
ure, dae, weke, eeue,
in presiese stellasies.

Waar vlieg dit tog heen
want iewers
tussen verlede en toekoms
verander die aanhoudende nou
wispelturig
in nétnou of nounét

Eenvoudig lei ek daaruit af:
Iemand lieg mos nou vir my.

Terug na bo | Terug na tuisblad











Vandag
Vandag het daar niks gebeur nie
behalwe dat die gemoedere
stilletjies warmer gegloei het
soos die aarde.

Ek hoor die toetse het jare gelede al gewys
dit borrel en dit broei onstuimig
want die permafrost
is lankal nie meer permanent nie.

En more kantel ’n onbeskofde gletser
val homself te pletter en eindig
fragemente van ’n verblyf
want die wêreld is so verskriklik oud.

Terug na bo | Terug na tuisblad

Terug na bo | Terug na tuisblad











Voorspoedige Nuwejaar...
Jaareind merk die begin van voornemens.
Op hierdie oujaar
is ’n verjongingskuur op die agenda.

Ek moet spring want die onderdele raak verslete
dit word noodsaaklik om te gryp
na enige moontlike verbeteringe.

Ek laai die program vir opgradering af
soek deur alle harde- en sagteware
na verwydering en vernuwing.

Om die selfbeeld te hersien -
megadosisse vitamiene.

Vir ander deurslaggewende mutasies
nuutkweking van eie selle
instuur na binne van nanorobotte
gladde kosmetiese ontrimpeling
botox die frons uit en laat die lippe tuit
maagverkleining tietievergroting koekievernouing
alle moontlike toevoegings uitwissing
oorplanting vervanging en herbouing.

Ek skraap en vul my valleie met silikoon.
Skud my ou self af en gee die pas
in hierdie post truth jaar
bloedjonk en splinternuut aan.

Terug na bo | Terug na tuisblad











Staan in die ry
My wêreld word oud en al hoe minder volhoubaar
en steeds het dit nie ’n jota teerheid nie.

Die profetiese kalender hou my aan ’n lyntjie
maar vleg rustig aan ’n string kosmiese pêrels.

O daar’s ’n skeur in die weefsel van tyd
en onsigbare swaartekraglyne beweeg verbete in gelid.

Want op ons kosbare blou planeet
weet ons die heelal versnel - of stort in ’n swart gat in.

En ek lewe in die skaduwees van verlore liefde
hoopvol vir verandering

dalk nog ’n kans?
tog net nie ek nie!

Ek onderhandel met my hemelse kredietbalans…
Maar die stem op die foon sê: u is 2026 ste in die ry

terwyl ’n vrolike deuntjie oor en oor speel

Terug na bo | Terug na tuisblad











Zeitgeist
Ek vertrou die liefde nie meer nie
want binne een hartklop stop
die wedersydsheid wat óns was
en voor ek my oë uitvee
het geen vraag
meer ’n aanvaarbare antwoord nie
en al my ou vrese word opnuut besweer

maar ek het nog ’n nag oorleef.

Ek vertrou die vrede nie meer nie
want al wat leef en beef versamel
wapens vir massavernietiging
gesinne sit in sitkamers
ervaar die nuusbrokkies
staar onbetrokke na die skouspel
van geweld en vergieting

maar ek het nog ’n nag oorleef.

Ek vertrou die lewe nie meer nie
slegs wat skaars is, is waardevol
in so ’n oorvloed is die mens
doodeenvoudig ’n luukse
’n parasiet wat met kiemdoders
vernietig behoort te word
voor dit te laat is

maar ek het nog ’n nag oorleef.

Terug na bo | Terug na tuisblad

Terug na bo | Terug na tuisblad











‘n Toevallige storie
my selle en my self
het ek nie self gekies nie

dit is uit die bloute
uit sterrestof ontwerp

geen rede vir hier
geen rede vir nou

‘n geskenk van pigment
hartklop en asem

’n plek in tyd
’n uitpos in ruimte

geen rede vir daar
geen rede vir toe

slegs materie wat keer op keer
antimaterie oorwin...

nou sit ek maar hier
want elders is hopelik nog ver

Terug na bo | Terug na tuisblad











Alles het sy bepaalde uur
Alles het sy bepaalde uur jy kannie stry nie
daar is ’n rustigheid rondom die stelling
wysers loop om en om die gesig die bestek
duur oploop afloop saamheid eensaamheid
asof een en een (mits niks) nooit niѐ twee kan wees nie.

Elke oomblik verstryk ewewydig
onomkeerbaar en skep ’n stroom
van nuwe noue.
So wat gebeur in hierdie uur? Baie.
Maar o.a. sterf meer as 6,000 mense
of amper 200,000 elke dag.

Ek verkneukel my daarin en tel die dae
die weke
die maande
die jare
‘n duur les
want altesaam van die begin af
trek ons nou by meer as 100 biljoen (of is dit nou miljard?)
anyway te veel om oor te worrie – behalwe:
die hemel moet nogal vol wees
om van die buurdorp in die vagevuur nie eens te praat nie
want mense bestáán die verlede.

Is dit dan nou regtig nodig om dit voller te maak

fatsoenlik
met ‘n bystanddood of onfatsoenlik
en stoets
sommer so self?

Ma?

Terug na bo | Terug na tuisblad

Terug na bo | Terug na tuisblad











Om lief te hê
Die botoon speel
al te danig en intiem
’n dominante
voetjie voetjie
in akkoord
met volronde oktawe

maar die ondertoon smag
na ’n breukdeel
van ’n mineur
’n kruis – nee ’n mol
of sommer albei

om die toonhoogte effens op te jazz
op en af met die toonlere:
heel heel half, heel heel half
dans ons op bokasletters
op note wat voortstoom
agt keer vorentoe
agt keer terug

maar o so voorwaardelik
of onbeantwoord en kwesbaar
soos net jy kan wees.

Terug na bo | Terug na tuisblad











Dead Zone
al langs die kuslyn vertel
die verlede sy storie
in ’n dooie strook
waar enkelsel organismes
om oorlewing spook

al langs die kuslyn versmoor
miljoene skulpdiere
as hulle vergeefs
in die suur stof na suurstof snak
voor hulle sterwend na die bodem sak

al langs die kuslyn spoel
verminkte visse en voёls
as opdrifsels in die sand uit
verstrengel in die groot
mensgemaakte rommelhoop

maar hierdie ondeurdagte moord
van als wat leef en sou kon liefhê
is nie eens ’n kwart
van die dead zone in my hart

nie

Terug na bo | Terug na tuisblad

Terug na bo | Terug na tuisblad











In alle waarskynlikheid
Wysgerig sou ek kon redeneer
dat niks behalwe die hede bestaan nie
want die verlede is weg
en die toekoms moet nog begin.

Godsdienstig sou ek kon glo
dat die hiernamaals ’n vleisparadys is
met mooie maagde vir elke man.
(Veral as hulle selfmoordbomplanters was.)

Voorspellend sou ek kon raai
dat hy tall dark en handsome en sy
blond en rondborstig kan wees.

Menslik wil ek hoop
dat als wat nog nie gebeur het nie
verkieslik gebêre word in die toekoms
teenoorgesteld van die verlede
sonder risiko en onsekerheid
en in alle waarskynlikheid...

sal jy weer lief wees vir my.

Terug na bo | Terug na tuisblad











Kletskamer
Ons kletter passievol
in en uit die kuberruimtes
ons kommunikeer en verkeer
slegs digitaal.

Hierdie warm vryskrif
is sonder sintuiglike waarneming
dit troetel en kafoefel
via emoji’s & hartjies
volgeprop met innuendo
’n flirterige koppeling
verspot versot op mekaar.

Sonder omarming of bagasie
narcissisties
maar tog onder ’n skuilnaam
hartstogtelik
tot submikroskopiese virusse
die hartkamer uitvee.

Terug na bo | Terug na tuisblad











Morte interruptus
Om te begin by die einde:
op ’n dag amper presies soos vandag
êrens in ’n kosmos
iewers anderkant ongebreidelde melkweë
triljoene en triljoene
ligjare weg
dáár ontplof ’n onbeskofte ster
en stuur massiewe gammastrale isotropies
tog speels die ruimtes in
perfek
onder andere
in ’n botsingsbaan met die aarde
een breukdeel van ’n sekonde later
pols die skokgolwe en vang
ons in ’n onverwagse dood
waar jy en ek
in ’n oombliklike
klimaks saamsmelt

in iets so oneindig meer permanent as die lewe.

Terug na bo | Terug na tuisblad

Terug na bo | Terug na tuisblad











Kennis is mag
Ver in die verlede het profete
wyse manne of soms vroue
besef hoe min die mensdom weet
die soektog gerig op die geringste detail
om kennis steentjie vir steentjie te bou.

Wanbegrip of te nie.

Nou se dae weet almal alles
want feite is globaal en algoritmies
post-truth en kitskennis inkluis
ons glo wat ons hoor
ons hoor wat ons glo.

Samesweringsteorie of te nie.

Gedurig verloor ek die stryd teen logika
weier om te weet:
’n oer onnosele proleet
wat gesonde verstand betwyfel
want ek bly lief vir jou.

Onnosel of te nie.

Terug na bo | Terug na tuisblad











Old Spice
Jy ruik lankal nie meer
na mens nie
(newwermaaind ’n nartjie of anys).
jou daaglikse ablusies vereis
’n verstommende getal chemichaliё
welriekend gespuit in jou naeltjie,
of gepeper in al jou holtes
en geheime kamers.
en daar is ietsie
met meer as ’n sweempie kruie
agter jou oor gesmeer
maar die hart
wat nie met roosmaryn
rein gewas kan word nie
sal eendag bederf en stink
die asem sal knoffelrig uitroggel
jy sal belangstelling verloor in
basielie en kruisement
vir jou suiwering
binnekort sal die besoedeling
van jou persoonlike higiёne
baie duidelik opgedis word vir die
gene rondom jou

Terug na bo | Terug na tuisblad











Verskuiwende horison
(vir Wilma)
Breek af en bou op
breek dan die opbou af
(want ons de-konstrueer mos).

Ek wonder tog...
is daar makliker maniere
om my hart te breek?

Ek kan byvoorbeeld ontsnap
en uittrip
as die slaaf van die nooit as te nimmer.

Knak miskien nog verder
tot fatsoenlike ou dame
met ’n loopring. Rumatiekerig
en ’n droë dun vel vol vlekke.

Of ’n enkele tree verder
arms gevou onder die hemelse grynslaggie
en kyk daar lê ek:
totaal ge-dekonstrueer
met ’n dns
van alles.

Terug na bo | Terug na tuisblad











Gatomkeer
Ter wille van oorlewing
pleeg ek daagliks moord
verslind ek diere en visse
en hopelik verorber
my witbloedselle alle ongewenste bakterieë
eenvoudig omdat die sterkstes sal oorleef.

Ek dra swaar aan die skuld.

Deesdae (so sê hulle versigtig)
raak dit al hoe moeiliker
om tussen lewe en dood te onderskei
soms is die grens lukraak
wat is lewe wat is dood
as onderdele gevries of gekloon kan word.

My las word effens ligter.

In my wedloop teen maaiers en miskruiers
draf ek dus op ’n rustige pas wetende my dns
is kanniedood.
En eintlik mimiek ek moord...
want dood
is dalk net miskien die veiligste manier van lewe.

Ek sweef weg soos ’n 21.3 gram spokie
en net indien jy wonder
dis minder as ’n ons.

Terug na bo | Terug na tuisblad

Terug na bo | Terug na tuisblad











En nou glo ons?
In kameraadskap is ons dapper
klou ons aan geloof
behou ons die reg
om die stad te omsingel omsluit
niemand mag uit nie.

Sny die foonlyn die satellietsein
stop verkeerde inligting
en uiteraard
haatspraak in sy spoor
trek die lager styf kameraad.

Maar kyk hoe sluip die woord
nietemin na alle oorde uit
kyk hoe pluim die saad
nieteenstaande in alle windrigtings uit
sonder verset...

uit die spookdorp waar die wilde iets
nou die wilde als bo sy swart stam
ook swart blare het.

Kamerade ons die ster gesien
en die vader se wil
en die vader se wil is Chernobyl.

Terug na bo | Terug na tuisblad

Terug na bo | Terug na tuisblad