|
Sê nou net ek word gebore en ek is ’n eendagsvlieg sou ek wens dat my vlietende sekondes ure kon wees of dae of jare? Sou ek groen van jaloesie word op mikro-organismes wat drie dae lank leef sonder om te hoef te soek na ’n maatjie. (Hoe was gisteraand vir my? Nee goed en vir my?) En my niggie die huisvlieg vlieg ’n volle maand lank rond in ’n magdom vermorsde momente om te broei in ’n miskoek. Van aankoms na vertrek vir naaldekokers is daar vier propvol maande waarin hul glinsterend fladder en pronk. Sou ek meer afgunstig wees op die duur van hul vlug of op hul josefskleed? Vanuit my saamgestelde oogpunt probeer ek my indink oor die eindpunt van papegaaie want daardie termyn sleep een hele een honderd jaar lank verby. Nie dat ek nou van ’n muggie ’n boeing wil maak nie... Maar soos die kraai vlieg is dit die Groot Knal gelede vir ’n eendagsvlieg. |
Terug na bo | Terug na tuisblad
|
’n Mossie is - verbatim uit Pharos: ’n geveerde mét vlerke tweebenige warmbloedige eier-lêende gewerwelde dier. En les bes 150 miljoen jaar oud. Jy kan my met ’n veertjie omtik. Voёlkenners verwys neerhalend na ‘little brown jobs’ so alomteenwoordig en vervuil is hulle behalwe in Antartika (te koud) en Londen (reeds uitgesterf). Maar ons en hulle is voёls van eenderse vere. Die jaar loop uit en ek voel so dood soos ’n mossie asof daar grade van dood kan wees asof ’n mossie meer dood as ’n duif kan wees of byvoorbeeld dooier as ’n mens. |
Terug na bo | Terug na tuisblad
|
die nag roer sag die maan maak ’n kraak — iets in die donker wil wakker praat ek is dubbel, heel en skeef, ek leef, ek sterf, ek leef ‘n skeur in tyd gevang tussen asem en stroom klak klak in die riete tussen water en droom |
|
Dit het Tyrannosaurus Rex tweehonderdmiljoen jaar geneem om ’n voël te word wensbeen en al geen haan het daaroor gekraai nie want soms is dit voordelig vir oorlewing om klein te wees. Nou sit ek myself in sy kop en ek dink – as Oupa Rex vandag na sy kuikens in hulle hokke kon kyk en sien hoe die kolonel daagliks in sy kitskoswinkels minstens tweehonderd miljoen klein amputasies verkwansel... Sou hy die geen in sy oorlewingsplan heroorweeg en sou hy homself met ’n helse geskud van vere van die naaste kerktoring te pletter val. |
|
Eendag lank gelede amper nog voor felis catus tot ’n troetelkat getem is en omdat katte nege lewens het was daar waarskynlik ánder hipotetiese katte in hipotetiese bokse wat hipoteties beide dood sowel as lewendig kon wees. Om te wys hoe gevat ek is noem ek dit ‘n paradoks in ’n boks want ek verstaan daar nie ’n snars of ’n snorbaard van nie. Om my verwarring te vererger speel ’n span slim filosowe sokker met die kat-in-die-boks. Voor die boks oopmaak word, wonder hulle: Is hy lewendig? Is hy dood? Is hy lewendig en dood? Swyend dink ek - dáárdie kat is voorwaar die moer in bly weg van sy naels en tande. Metteryd besef ek: party dinge pas nie in ’n mensgemaakte kategorie nie en miskien moet ek minder aandag daaraan gee. |
|
Sisteme en strukture omring my wêreld is meestal ordelik in plek en ek is slaapwandelend afgekamp soos ʼn wolfhond agter sy warm asem waar hy voosvoets al langs die grensdraad aanploeter. Ek loer oor die skans van my domein bespied onrustige hoe realiteit orals waar en met elke wanneer verdwyn. Verstreke tye verstringel in ’n droom as slaapapnee my met angstige inademings opnuut inteuel in die nou. Hoe laat is dit. Wat het ons hier: die veldun muur tussen lewe en dood wat my uit anderkant gryp en aan hierdie kant terugplak om verder in my hersenskim te dommel op ’n tweetonige noot. |
|
daar is ’n hele paar van hulle een en almal moordenaars doodstil aan’t boemel van piepklein petieterig eintlik niks meer as duimnaelgrootte nie tot gedrogte groter as ’n halwe rugbyveld hulle plant fluks en lustig voort: gee skaamteloos voor hulle is vlugtelinge of verberg hulle indringerstatus én die feit dat hulle eintlik die allerlaaste kranige koloniste is... hoe dit ook al sy neem oor deur brute krag van getalle party roof ander sit doodgerus en wag vir die wegneemetes wat so willekeurig afgelewer word intussen sal veersagte aanrakings van venynige suiers jou longspiere aantas en te laat besef jy dit is dodelike gif met liefde opgedis. |
Terug na bo | Terug na tuisblad
|
wie wag hulle kans rustig af in die ver ver daar onder waar ’n glim van gelatine-agtige pienk half deurskynend dril en waar die wriemelende krulhare voelers uitsteek om jou aan te raak en een met klip te maak? dis visse wat nie visse is nie skepsels sonder hart of brein of oë wat al ouer as oud was lank voor visse begin het nog steeds blom hulle saad seisoenloos soos blomme in namakwaland nie kan namaak nie aangehelp deur warmer waters die nonchalansie van meer bakterieë minder suurstof nog minder roofvisse en baie lank ná die einde sal hulle heel beskeie die ganslike sirkus weer begin. |
|
dan is daar ’n afstammeling van ’n doodeenvoudige organisme met die vermoë om homself te herskep hierdie polietse meneer (of mevrou) het ’n netjiese tydbom waarmee sy haarself kan verdrieduisenddubbel dieselfde selle vervorm herhaaldelik van kwal na poliep die sambreel vou toe en word heel saam met die tentakels ingesluk ma word kind en kind word ma oor en oor en oor en oor om nimmereindigend en vir ewig uit die dood uit op te staan in daardie geval net miskien sal ek eerder vergaan. |
|
daar’s ‘n noemnaam paniek in die hoogste tak een ‘n blou verkleurvrou, die ander ‘n perspienk kamoefleerqueen, terwyl hý bloot ’n verkleurmannetjie is, is sy verkleurmannetjievróutjie ‘n verkleurmannetjiewyfie en as ek hý was sou ek suutjies trap rondom hom haar hulle wanneer hom haar hulle hom uitsonderliks uit elke oog dophou sonder om ‘n kop te draai want mevrou verkleurmannetjiewyfie is ‘n genderfluid reptiel. |
|
Al is die skelet en skedel meer bestand teen aanslae van buite as die weekdele alleen al bly die geraamte oorwegend dieselfde been van my been. Al spoeg ek herhaaldelik stukkies uit verslyt verbrysel en kapot vir die aasvoëls die tandmuis die graf in hulle moer in bederf en verrot. Al versplinter en spat die skerwe uit hul raam vergeel die kalkwit pitte met tyd asem ’n klaaglied nou sonder roosmaryn die gebit verslind met valse byt. Al raak ek amper te oud vir die daaglikse stryd watch my maar stip want ewe bedees eendag nie te ver van nou af nie gaan ek ’n sexy lyk met ’n passion gap wees. |
Terug na bo | Terug na tuisblad
|
Daar word gesê: toerusting van hout of been of klip waarmee ons kon koning kraai het gelei tot homo habilis die aap wat kon maak. Daar word gesê: rotswand tierlanttekens uit rooi en oker pigmente waarmee ons beteken is het gelei tot homo erectus die aap wat kon praat. Daar word gesê: kleurvolle halssnoere van skulp of saad of ivoor waarmee ons kon pouveer sprei het gelei tot homo sapiens die aap wat kon dink. Daar word gesê: die wêreldwyeweb vir opgaar van feite en geite en verdraaiings waarmee ons algoritmies kommunikeer het gelei to homo sapiens sapiens die tropdier wat ’n na-aper is. |
Terug na bo | Terug na tuisblad
|
Om die skat van woorde uit ’n dooie taal te onsyfer fynkam die argeoloog spykerskrifstrepies op stukkies potskerf okerrooi gekeep tussen voormens oorblyfels. Lewend weet sy was dit propvol vernuftige verbindingslyne. Dood is dit stom betekenis in sy spoor gestol of gevul met misverstand onbereikbaar nes ’n gewese geliefde. Vir insig soek sy noukeurig van links na regs en andersom. van bo na onder en andersom. Sy is hiper bewus dat so ‘n artefak ’n kruik vol simboliese rykdom kan wees die inskripsie tekenend van die vrugbare moeder-godin. Sy wonder opgewonde: sif sy versigtig deur aanwysing of seremonie? Is wat sy sien slegs rigtingaangewend? Of miskien ’n hulproep tot die gode? Plotseling maak die rekonstruksie sin sit die betekenis op die punt van haar tong en sy lees die verlede letterlik verbatim en dit sê sedig: Een kraf varkvet. |
Terug na bo | Terug na tuisblad
|
Dit slaan my dronk dat in die reikwydte van tyd (spring ‘n aks na links) lank voor ons kan of wil onthou is rotse gesleep gestoot, gerol of kon hulle dans? (trap nou na regs) kammalielies gevorm deur slawe met kliphamers en bronsbeitels (hande op die heupe) of dalkies gesweef deur reuse met klankvibrasies en lasers (knieё styf) skuifel-skuifel op die plek rus klip het klip omvou (stoot die pelvis uit) om piramides soos velde van dansende klippe te bou. In ‘n poging om permanent te bestaan skryf ons pi in the sky. |
|
“James Joyce was a synthesizer, trying to bring in as much as he could. I am an analyzer, trying to leave out as much as I can” Samuel Beckett) Tientalle weergawes van die vier-en twintig uur van hierdie dag liewe aarde, sou ’n mens kon uitroep: elke sekonde is belangrik! ons almal noteer ons volgepropte epiese reise: en toe eet ek ontbyt en toe maak ek reg vir werk en toe gaan stap ek of slenter rond en neem ’n selfie hou myself besig met onbenullighede maar dink aan die lewe en aan almal wat al dood is sien vreemde dinge op my wandeltog - peusel aan beelde tien van die en tien van daai dan sommer veertig van die ander en neem ’n selfie stop en eet eers iets ligs of maak praatjies oor dit en dat en dink aan ou en nuwe liefdes droom dagdrome en wonder wat alles ek nog kan uitblaker ek gebruik my wapens van massakommunikasie gewoonlik in die oortreffende trap ek deel my gedagtes by wyse van spraak, skrif en potgooi en neem ’n selfie algaande verleer ek om my woorde versigtig te kies, die gedagtes te rangskik dus (vir impak) maak ek bykomend ’n grappie aan die einde en wens dat ek iemand gehad het om ontbyt voor te maak. |
Terug na bo | Terug na tuisblad
|
Absurd hoe min is nodig om ’n twiet te toeter. Die kern bly. Veral as jy bywoorde en vokale vermy en als deurspek met emoji’s: *lm*l m*l g*b*r* S*mm*g* bly m*l
|
|
Hier kom die cancel culture op ’n galop na die rommelhoop ek probeer dit beteuel met kennis met geloof met stof opskop maar steek viervoet vas en val uit die reisies uit. Ek het my kans reeds gemis Is klaar die stoffasie van ’n afvalproduk nes die organiese reste wat ten beste slegs bemes. Dis onvermydelik. Dis natuurkunde. Die bestaande orde verwissel beslis na wanorde as hoop morsig gestroop word sodat elke einde in die oortreffende trap begin om te bind en te ontbind. My verspotte kwantumsprong na onsterflikheid land my finaal op ’n mishoop stort my in die aardskoot as ’n skeppie humus. Lank voor Facebook agterkom ek is dood. |
Terug na bo | Terug na tuisblad
|
Die Filistyne kom en Dawid is dood wie gaan die klip gooi wie gaan my red my wêreld word dieper as die dermis gekwes stort reusagtig ineen en land in ’n rojale staat van beleg die nuwe nou van ’n donker eeu waar die slinger swaai en swaai in ’n tweegeveg tussen klein en groot lewe en dood vetsug en hongersnood. Die massa wys ’n duisend woke vingers na arrogante Goliat. Tientalle vroue skree me too me too tronk toe met jou. Hy lag hulle uit en skop domastrant ’n stofstorm oop. O Jesaiah. O Jeremia. Die Filistyne kom en Dawid is dood. |
|
Ek en alles rondom my stort in duie dis wreed maar waar. In duie gestort beteken duidelik meer as een dui wat gestort het. Ek glo of eerder ek het ’n vermoede dit kan ook dui op die hordes spesies en kulture wat al in duie gestort het. ’n Geluksalige stortvloed wat baldadig deur eone stroom mens en dier en plek en ding in ewigdurende verdoemenis. Nie eers Everest is geberg en veilig nie. Dan eindig ek by ‘n volstrekte oortuiging dat al hierdie ineenstorting nog gangbaar sou wees indien iemand nie my siel gaan staan en steel het nie. |
(Richard Dawkins. “The Selfish Gene.”)Ek reis agteruit in tydanachronisties geplaas voor my pa se geboorte. Hy lees die kronieke vir my voor want hy kan. Hy met sy selfsugtige geen is my teelouer. Hy ruik ’n bietjie af. Eintlik vrot. Maar sy sekel blink en hy en sy uurglas lóóp op soek na kak. Patriargaal skik hy die toekoms om weer en weer te gebeur. Hy is my (en jou) baby daddy want baba pappa klink darem baie vreemd. Ou man met sy chroniese kwale op sy eenrigtingwandelgang met sy sakke vol dodelike memes Die wreedste ouer onder die son. |
|
Tyd, seg die oom, is wat deur horlosies gemeet word: dus ’n heel eenvoudige wysneus met sy regoprugwysers op weghol na die toekoms. Tyd vlug (volgens Vergilius) en ek hol agterna met my versameling indrukke onder my arm vreesbevange dat ek op ’n skrikkelsekonde sal uitmis. Of nog erger – ek sal agterbly. Ek en hy baklei gedurig by wyse van spreke teen integrale transformasie. Dit is blykbaar terminaal (volgens Patti Smith). Ek bekyk myself en wonder of ek ’n enkele oorspronklike strikvraag het want al wat ek werklik wil weet is: En toe? |
|
Katie sing oor die 9 miljoen fietse in Beijing lank na feministe reeds besluit het fietse is nie nodig vir visse nie. Maar sy tel nie die kilometers fietse wat vergete lê en roes in die fietsbegraafplase van die wegsmytkultuur nie. Daar is genoeg fietse vir elke kind in die hele wêreld. Indien die mens mededeelsaam sou wees indien dit saak sou maak dat hy glo ’n kind moet ’n fiets hê. Al het hy nie ’n vis nie. |
Terug na bo | Terug na tuisblad
|
die wêreld is my woning en ek sit in die middel van ‘n mimetiese krisis en wie se skuld is dit? nie myne nie ek boots net na is bloot ‘n bok vir sonde maar daar waar sterre gebore word het iemand die lig, die rigting, die orde opgeraap en met die hele melkweg spore gemaak ‘n suiwering is nodig om die lig terug te bring so wat soek julle by my? ek sê mos dis nie my skuld nie. of perdalks tog maar net punt nul nul een persent… |
|
Ek verstaan die heelal bestaan uit ruimte en tyd klaarblyklike eenhede met (agter-een-volg-end) meetbare momente. Die konsep van oneindige onbelemmerde melkweë en ligjare vol ruimte begryp ek heel maklik: dit is so orals dat dit eintlik nêrens is nie. Maar pynlik gereeld tob ek oor die verbete verloop van jare. Die opstapeling van sekondes ure, dae, weke, eeue, in presiese stellasies. Waar vlieg dit tog heen want iewers tussen verlede en toekoms verander die aanhoudende nou wispelturig in nétnou of nounét Eenvoudig lei ek daaruit af: Iemand lieg mos nou vir my. |
|
Vandag het daar niks gebeur nie behalwe dat die gemoedere stilletjies warmer gegloei het soos die aarde. Ek hoor die toetse het jare gelede al gewys dit borrel en dit broei onstuimig want die permafrost is lankal nie meer permanent nie. En more kantel ’n onbeskofde gletser val homself te pletter en eindig fragemente van ’n verblyf want die wêreld is so verskriklik oud. |
Terug na bo | Terug na tuisblad
|
Jaareind merk die begin van voornemens. Op hierdie oujaar is ’n verjongingskuur op die agenda. Ek moet spring want die onderdele raak verslete dit word noodsaaklik om te gryp na enige moontlike verbeteringe. Ek laai die program vir opgradering af soek deur alle harde- en sagteware na verwydering en vernuwing. Om die selfbeeld te hersien - megadosisse vitamiene. Vir ander deurslaggewende mutasies nuutkweking van eie selle instuur na binne van nanorobotte gladde kosmetiese ontrimpeling botox die frons uit en laat die lippe tuit maagverkleining tietievergroting koekievernouing alle moontlike toevoegings uitwissing oorplanting vervanging en herbouing. Ek skraap en vul my valleie met silikoon. Skud my ou self af en gee die pas in hierdie post truth jaar bloedjonk en splinternuut aan. |
|
My wêreld word oud en al hoe minder volhoubaar en steeds het dit nie ’n jota teerheid nie. Die profetiese kalender hou my aan ’n lyntjie maar vleg rustig aan ’n string kosmiese pêrels. O daar’s ’n skeur in die weefsel van tyd en onsigbare swaartekraglyne beweeg verbete in gelid. Want op ons kosbare blou planeet weet ons die heelal versnel - of stort in ’n swart gat in. En ek lewe in die skaduwees van verlore liefde hoopvol vir verandering dalk nog ’n kans? tog net nie ek nie! Ek onderhandel met my hemelse kredietbalans… Maar die stem op die foon sê: u is 2026 ste in die ry terwyl ’n vrolike deuntjie oor en oor speel |
|
Ek vertrou die liefde nie meer nie want binne een hartklop stop die wedersydsheid wat óns was en voor ek my oë uitvee het geen vraag meer ’n aanvaarbare antwoord nie en al my ou vrese word opnuut besweer maar ek het nog ’n nag oorleef. Ek vertrou die vrede nie meer nie want al wat leef en beef versamel wapens vir massavernietiging gesinne sit in sitkamers ervaar die nuusbrokkies staar onbetrokke na die skouspel van geweld en vergieting maar ek het nog ’n nag oorleef. Ek vertrou die lewe nie meer nie slegs wat skaars is, is waardevol in so ’n oorvloed is die mens doodeenvoudig ’n luukse ’n parasiet wat met kiemdoders vernietig behoort te word voor dit te laat is maar ek het nog ’n nag oorleef. |
Terug na bo | Terug na tuisblad
|
my selle en my self het ek nie self gekies nie dit is uit die bloute uit sterrestof ontwerp geen rede vir hier geen rede vir nou ‘n geskenk van pigment hartklop en asem ’n plek in tyd ’n uitpos in ruimte geen rede vir daar geen rede vir toe slegs materie wat keer op keer antimaterie oorwin... nou sit ek maar hier want elders is hopelik nog ver |
|
Alles het sy bepaalde uur jy kannie stry nie daar is ’n rustigheid rondom die stelling wysers loop om en om die gesig die bestek duur oploop afloop saamheid eensaamheid asof een en een (mits niks) nooit niѐ twee kan wees nie. Elke oomblik verstryk ewewydig onomkeerbaar en skep ’n stroom van nuwe noue. So wat gebeur in hierdie uur? Baie. Maar o.a. sterf meer as 6,000 mense of amper 200,000 elke dag. Ek verkneukel my daarin en tel die dae die weke die maande die jare ‘n duur les want altesaam van die begin af trek ons nou by meer as 100 biljoen (of is dit nou miljard?) anyway te veel om oor te worrie – behalwe: die hemel moet nogal vol wees om van die buurdorp in die vagevuur nie eens te praat nie want mense bestáán die verlede. Is dit dan nou regtig nodig om dit voller te maak fatsoenlik met ‘n bystanddood of onfatsoenlik en stoets sommer so self? Ma? |
Terug na bo | Terug na tuisblad
|
Die botoon speel al te danig en intiem ’n dominante voetjie voetjie in akkoord met volronde oktawe maar die ondertoon smag na ’n breukdeel van ’n mineur ’n kruis – nee ’n mol of sommer albei om die toonhoogte effens op te jazz op en af met die toonlere: heel heel half, heel heel half dans ons op bokasletters op note wat voortstoom agt keer vorentoe agt keer terug maar o so voorwaardelik of onbeantwoord en kwesbaar soos net jy kan wees. |
|
al langs die kuslyn vertel die verlede sy storie in ’n dooie strook waar enkelsel organismes om oorlewing spook al langs die kuslyn versmoor miljoene skulpdiere as hulle vergeefs in die suur stof na suurstof snak voor hulle sterwend na die bodem sak al langs die kuslyn spoel verminkte visse en voёls as opdrifsels in die sand uit verstrengel in die groot mensgemaakte rommelhoop maar hierdie ondeurdagte moord van als wat leef en sou kon liefhê is nie eens ’n kwart van die dead zone in my hart nie |
Terug na bo | Terug na tuisblad
|
Wysgerig sou ek kon redeneer dat niks behalwe die hede bestaan nie want die verlede is weg en die toekoms moet nog begin. Godsdienstig sou ek kon glo dat die hiernamaals ’n vleisparadys is met mooie maagde vir elke man. (Veral as hulle selfmoordbomplanters was.) Voorspellend sou ek kon raai dat hy tall dark en handsome en sy blond en rondborstig kan wees. Menslik wil ek hoop dat als wat nog nie gebeur het nie verkieslik gebêre word in die toekoms teenoorgesteld van die verlede sonder risiko en onsekerheid en in alle waarskynlikheid... sal jy weer lief wees vir my. |
|
Ons kletter passievol in en uit die kuberruimtes ons kommunikeer en verkeer slegs digitaal. Hierdie warm vryskrif is sonder sintuiglike waarneming dit troetel en kafoefel via emoji’s & hartjies volgeprop met innuendo ’n flirterige koppeling verspot versot op mekaar. Sonder omarming of bagasie narcissisties maar tog onder ’n skuilnaam hartstogtelik tot submikroskopiese virusse die hartkamer uitvee. |
|
Om te begin by die einde: op ’n dag amper presies soos vandag êrens in ’n kosmos iewers anderkant ongebreidelde melkweë triljoene en triljoene ligjare weg dáár ontplof ’n onbeskofte ster en stuur massiewe gammastrale isotropies tog speels die ruimtes in perfek onder andere in ’n botsingsbaan met die aarde een breukdeel van ’n sekonde later pols die skokgolwe en vang ons in ’n onverwagse dood waar jy en ek in ’n oombliklike klimaks saamsmelt in iets so oneindig meer permanent as die lewe. |
Terug na bo | Terug na tuisblad
|
Ver in die verlede het profete wyse manne of soms vroue besef hoe min die mensdom weet die soektog gerig op die geringste detail om kennis steentjie vir steentjie te bou. Wanbegrip of te nie. Nou se dae weet almal alles want feite is globaal en algoritmies post-truth en kitskennis inkluis ons glo wat ons hoor ons hoor wat ons glo. Samesweringsteorie of te nie. Gedurig verloor ek die stryd teen logika weier om te weet: ’n oer onnosele proleet wat gesonde verstand betwyfel want ek bly lief vir jou. Onnosel of te nie. |
|
Jy ruik lankal nie meer na mens nie (newwermaaind ’n nartjie of anys). jou daaglikse ablusies vereis ’n verstommende getal chemichaliё welriekend gespuit in jou naeltjie, of gepeper in al jou holtes en geheime kamers. en daar is ietsie met meer as ’n sweempie kruie agter jou oor gesmeer maar die hart wat nie met roosmaryn rein gewas kan word nie sal eendag bederf en stink die asem sal knoffelrig uitroggel jy sal belangstelling verloor in basielie en kruisement vir jou suiwering binnekort sal die besoedeling van jou persoonlike higiёne baie duidelik opgedis word vir die gene rondom jou |
|
Breek af en bou op breek dan die opbou af (want ons de-konstrueer mos). Ek wonder tog... is daar makliker maniere om my hart te breek? Ek kan byvoorbeeld ontsnap en uittrip as die slaaf van die nooit as te nimmer. Knak miskien nog verder tot fatsoenlike ou dame met ’n loopring. Rumatiekerig en ’n droë dun vel vol vlekke. Of ’n enkele tree verder arms gevou onder die hemelse grynslaggie en kyk daar lê ek: totaal ge-dekonstrueer met ’n dns van alles. |
|
Ter wille van oorlewing pleeg ek daagliks moord verslind ek diere en visse en hopelik verorber my witbloedselle alle ongewenste bakterieë eenvoudig omdat die sterkstes sal oorleef. Ek dra swaar aan die skuld. Deesdae (so sê hulle versigtig) raak dit al hoe moeiliker om tussen lewe en dood te onderskei soms is die grens lukraak wat is lewe wat is dood as onderdele gevries of gekloon kan word. My las word effens ligter. In my wedloop teen maaiers en miskruiers draf ek dus op ’n rustige pas wetende my dns is kanniedood. En eintlik mimiek ek moord... want dood is dalk net miskien die veiligste manier van lewe. Ek sweef weg soos ’n 21.3 gram spokie en net indien jy wonder dis minder as ’n ons. |
Terug na bo | Terug na tuisblad
|
In kameraadskap is ons dapper klou ons aan geloof behou ons die reg om die stad te omsingel omsluit niemand mag uit nie. Sny die foonlyn die satellietsein stop verkeerde inligting en uiteraard haatspraak in sy spoor trek die lager styf kameraad. Maar kyk hoe sluip die woord nietemin na alle oorde uit kyk hoe pluim die saad nieteenstaande in alle windrigtings uit sonder verset... uit die spookdorp waar die wilde iets nou die wilde als bo sy swart stam ook swart blare het. Kamerade ons die ster gesien en die vader se wil en die vader se wil is Chernobyl. |