Rosa Keet Gedigte: Hystera

Uitgegee deur Perskor 1974













Genesis
langer
as my voorgeslagte gelede
op ’n onsekere dag
soos vandag
met spatsels son
wat wolke kook
in ’n metaalblik lug
het ’n voorbarige vis
impulsief
op die water geloop
ander seebewoners
het soos die maak en breek
van kwiksilwerblomme
die onbekende skadu
op die oppervlakte kom verken
die wind het lag-lag
verby sy ore gedroom
die golwe
was bonsende hande
om sy voete
die sand het warm gelê
en wag
en sonder om iets
meer in ag te neem
het hy lomp geseilkruip
tot waar sy eerste voetstap
die donker grond
laat bewe het

Terug na bo | Terug na tuisblad



Terug na bo | Terug na tuisblad











Die twaalfde was ‘n ametis
‘n baba is gebore
in stille senekal
moeg van bene brein en bloed
sluit ek hom stofdig
warmpies in die wieg
van my lessenaar toe

die gemeete het gekom om te bewonder
ongeskoei bring hulle komberse
bring hulle kousies en kappies
bring hulle geskenke van bloedrooi aalwyne

drie tweegesig duimgooiers
het in bethlehem gevra
hoe ver is dit nog na senekal
en in watter rigting
volg die mȏrester menere
43 myl reg wes

hulle het nederig in my kamer kom kniel
agter die masker van wierook en mirre

kon ek drie blink skêre sien
hulle riemtrek my suigeling
aan die naelband uit die laai
sny die sagte
stilgebore binnelewe uit
en los die stofomslag
ter nagedagtenis
vir my in senekal

Terug na bo | Terug na tuisblad











Things that go bump in the night
jy los my alleen
in ‘n huis vol geluide
en hoe minder ek luister
hoe harder klink die fluister
van ‘n onbekende voetstap
op die donker trap
bang vaak verdwaal ek laat
in die gange op soek
na slaap
wat om elke naghoek verdwyn
ek skrik
vir die naaldekokerstraatlig
deur skaars bewegende blare
jou jas aan die kapstok
is ‘n man sonder bene
ek is bang
vir die stofsuierslang
op die vloer van die spens
en tot jy terugkom
sleep ek my vrees
soos ‘n kis agter my aan

Terug na bo | Terug na tuisblad











Fobie
vrees boor
diep holtes
in my bene
my kleintongetjie
word droog
my aorta
word lam
blink naalde
torring
‘n doring
uit my lewe
ek probeer
om my angs
te beheer
maar o ek verkies
die stil sesvoetdiep
suurgrond
bo die man
met die hande
wat my mond
aanrand

Terug na bo | Terug na tuisblad











Die kringloop van my maand
die kringloop van my maand
is agt-en-twintig dae

en elke vier-en-twintig uur
kies ek ’n ronde geel koeël

uit die papierbandelier
wat in my handsak pas

ek skiet ’n wond
na my skoot

die x ontplof
uit my chromosoom

my stamboom verdroog
van misgeboorte

ek sou nou koud
en koeëlvas gewees het

as ek nie af en toe
russiese roulette speel nie

Terug na bo | Terug na tuisblad











Geboorte
seer uitdruklik baar
ek na ’n driekwart jaar
se draende herberg
onfatsoenlik vinnig skoert
jy skree-skree
deur my jou eie lewe in

skaars ’n half-uur groot
en ’n gewigtige statistiek vertel:
jy – ses pond agt onse
een-en-twintig duim
is op 13 november om vyf
voor agt in die aand
met die helm gebore
en ander:
blank twee ore
oë arms bene
een neus een mond
tien vingers tien tone
alles gesond

jy los my so léég ek soek na jou
as ek my eie voete meteens weer
van bo af kan aanskou

Terug na bo | Terug na tuisblad

Terug na bo | Terug na tuisblad











Naaldglad
naaldglad
gly slaap
my slagaar in

ek word ’n fetus
my lakens
kladpapier
die pynlose bloed
van my wedergeboorte

wanneer ek wakker word
vul die vrugtelose stilte
die kiem in my skoot

Terug na bo | Terug na tuisblad











Slaapliedjie
wees stil nou my lief
die bome bid ‘n naggebed
en oor ons flikflooi
blink dingetjies
soos gogga-ogies koekeloer
met die donsblom
bleekblom maan
kom nou
kom nou my sonneblom
kom kruip sorgvuldig
in jou slaapsak in
vou toe die flentertjies
hemel van jou oë
soen jou rosewangetjies
vlindersag
met jou donker
wimpers
goeienag

Terug na bo | Terug na tuisblad











Hysterektomia
Vanaf my geboorte dra
ek ’n bevrore druppel maan
wat op eie baan
in my wentel
en dorstig water trek
om my leë houer
gods water oor gods akker
vol te loop

’n derde deur my jare
stop ek die lekplek toe
vol latente warmte
ontdooi my maan en groei
ek neem lang teue
uit die lewe
tot die afvoerkanaal oorstroom
en nuwe riviere
uit my mond

gou te gou daarna
verdroog my maan en kors
in skilferstukke los
’n bymekaarskraap
van die droesem
maak my liggaam
molmkas
en my ’n niemand
van die onsydige geslag

Terug na bo | Terug na tuisblad











Op ’n laatmiddag
op ’n laatmiddag
wat wulps en wynrooi was
het my hormone
harakiri gepleeg
agter die hortjies
van my ribbekas

Terug na bo | Terug na tuisblad











Die man wat hang
die man
wat aan sy enkels hang
is so gelukkig

sy voete swaai
lomp-bly vlermuise
in die oggendwind

sy kop vlieg los
terwyl hy luister
hoe die gras groei

wanneer die son
warm is
en die dag stil

sien hy
hoe die katjiepiering
‘n treurige soet geur sweet

die man wat hang
is so gelukkig
sy kraaloë flikker

en in die diep somernag
hoor hy
hoe die sterre beweeg

hoor hy dof
die dreun
van ’n ver see

die tou
wat hom vashou
is los en breekbaar

soos ’n ogendlagie ys
oor vlak water
en later
sal hy afval
en sy bene
sal soos fyn

visgeraamtes
in die waaiende meer
van gras lê

Terug na bo | Terug na tuisblad











Inlywing
my maagdmoeder
oermoeder
matriarg

sit in ’n aarholte
op die warm as
van die aarde

sy is die ankerbout
die spil
van son en maan en sterre

sy strek
haar arms
alomvattend oop

en wanneer ek eendag
‘n tere snaar
in haar aanraak

sal sy my met sagte
swaartekrag
na haar bors roep.

Terug na bo | Terug na tuisblad











Neem my terug moeder
neem my terug moeder
net tot vannag toe wil
ek grootoog tjoepstil
agter jou voorskoot skuil
of kring my in jou arms vas
net tot vannag toe wil
ek duim in die mond
op jou skoot kom krul
wieg my wind my
droog my kind my
neem my terug moeder
net tot vannag toe wil
ek my hele wêreld vul

Terug na bo | Terug na tuisblad