
|
langer as my voorgeslagte gelede op ’n onsekere dag soos vandag met spatsels son wat wolke kook in ’n metaalblik lug het ’n voorbarige vis impulsief op die water geloop ander seebewoners het soos die maak en breek van kwiksilwerblomme die onbekende skadu op die oppervlakte kom verken die wind het lag-lag verby sy ore gedroom die golwe was bonsende hande om sy voete die sand het warm gelê en wag en sonder om iets meer in ag te neem het hy lomp geseilkruip tot waar sy eerste voetstap die donker grond laat bewe het |
Terug na bo | Terug na tuisblad
|
‘n baba is gebore in stille senekal moeg van bene brein en bloed sluit ek hom stofdig warmpies in die wieg van my lessenaar toe die gemeete het gekom om te bewonder ongeskoei bring hulle komberse bring hulle kousies en kappies bring hulle geskenke van bloedrooi aalwyne drie tweegesig duimgooiers het in bethlehem gevra hoe ver is dit nog na senekal en in watter rigting volg die mȏrester menere 43 myl reg wes hulle het nederig in my kamer kom kniel agter die masker van wierook en mirre kon ek drie blink skêre sien hulle riemtrek my suigeling aan die naelband uit die laai sny die sagte stilgebore binnelewe uit en los die stofomslag ter nagedagtenis vir my in senekal |
|
jy los my alleen in ‘n huis vol geluide en hoe minder ek luister hoe harder klink die fluister van ‘n onbekende voetstap op die donker trap bang vaak verdwaal ek laat in die gange op soek na slaap wat om elke naghoek verdwyn ek skrik vir die naaldekokerstraatlig deur skaars bewegende blare jou jas aan die kapstok is ‘n man sonder bene ek is bang vir die stofsuierslang op die vloer van die spens en tot jy terugkom sleep ek my vrees soos ‘n kis agter my aan |
|
vrees boor diep holtes in my bene my kleintongetjie word droog my aorta word lam blink naalde torring ‘n doring uit my lewe ek probeer om my angs te beheer maar o ek verkies die stil sesvoetdiep suurgrond bo die man met die hande wat my mond aanrand |
|
die kringloop van my maand is agt-en-twintig dae en elke vier-en-twintig uur kies ek ’n ronde geel koeël uit die papierbandelier wat in my handsak pas ek skiet ’n wond na my skoot die x ontplof uit my chromosoom my stamboom verdroog van misgeboorte ek sou nou koud en koeëlvas gewees het as ek nie af en toe russiese roulette speel nie |
|
seer uitdruklik baar ek na ’n driekwart jaar se draende herberg onfatsoenlik vinnig skoert jy skree-skree deur my jou eie lewe in skaars ’n half-uur groot en ’n gewigtige statistiek vertel: jy – ses pond agt onse een-en-twintig duim is op 13 november om vyf voor agt in die aand met die helm gebore en ander: blank twee ore oë arms bene een neus een mond tien vingers tien tone alles gesond jy los my so léég ek soek na jou as ek my eie voete meteens weer van bo af kan aanskou |
|
naaldglad gly slaap my slagaar in ek word ’n fetus my lakens kladpapier die pynlose bloed van my wedergeboorte wanneer ek wakker word vul die vrugtelose stilte die kiem in my skoot |
|
wees stil nou my lief die bome bid ‘n naggebed en oor ons flikflooi blink dingetjies soos gogga-ogies koekeloer met die donsblom bleekblom maan kom nou kom nou my sonneblom kom kruip sorgvuldig in jou slaapsak in vou toe die flentertjies hemel van jou oë soen jou rosewangetjies vlindersag met jou donker wimpers goeienag |
|
Vanaf my geboorte dra ek ’n bevrore druppel maan wat op eie baan in my wentel en dorstig water trek om my leë houer gods water oor gods akker vol te loop ’n derde deur my jare stop ek die lekplek toe vol latente warmte ontdooi my maan en groei ek neem lang teue uit die lewe tot die afvoerkanaal oorstroom en nuwe riviere uit my mond gou te gou daarna verdroog my maan en kors in skilferstukke los ’n bymekaarskraap van die droesem maak my liggaam molmkas en my ’n niemand van die onsydige geslag |
|
op ’n laatmiddag wat wulps en wynrooi was het my hormone harakiri gepleeg agter die hortjies van my ribbekas |
|
die man wat aan sy enkels hang is so gelukkig sy voete swaai lomp-bly vlermuise in die oggendwind sy kop vlieg los terwyl hy luister hoe die gras groei wanneer die son warm is en die dag stil sien hy hoe die katjiepiering ‘n treurige soet geur sweet die man wat hang is so gelukkig sy kraaloë flikker en in die diep somernag hoor hy hoe die sterre beweeg hoor hy dof die dreun van ’n ver see die tou wat hom vashou is los en breekbaar soos ’n ogendlagie ys oor vlak water en later sal hy afval en sy bene sal soos fyn visgeraamtes in die waaiende meer van gras lê |
|
my maagdmoeder oermoeder matriarg sit in ’n aarholte op die warm as van die aarde sy is die ankerbout die spil van son en maan en sterre sy strek haar arms alomvattend oop en wanneer ek eendag ‘n tere snaar in haar aanraak sal sy my met sagte swaartekrag na haar bors roep. |
|
neem my terug moeder net tot vannag toe wil ek grootoog tjoepstil agter jou voorskoot skuil of kring my in jou arms vas net tot vannag toe wil ek duim in die mond op jou skoot kom krul wieg my wind my droog my kind my neem my terug moeder net tot vannag toe wil ek my hele wêreld vul |