
|
Sluimerend en windstil in ’n lugleegte wag hy ademloos. Hy roep die begin op onwetend dat die begin altyd alreeds begin het. Van sonsondergang tot middernag hang sy buigbare bene, sy vloeibare gewrigte bedrieglik in die lug. Kiem en oersel is hy skaars bewus van die stroom van wording wat verborge is. ’n Hersenskim besiel hom en met sy eerste asemteug bars hy as borrelende gas uit ’n bedompige moeras. Sy rusteloosheid groei soos onkruid groei langs hom glim die boud van ‘n platanna hy hyg en snak na sy bewussyn breek ’n wind poep ’n stink en met ’n spookagtige stem sê hy : "Laat daar lug wees" |
|
’n Wildewragtig van ’n koggelmandermannetjie sit op sy agterpote en bid. Dan word hy ’n vuurspuwende draak wat mor en knor dat dit kraak. Sy oë is rooi krale sy tong flits bliksemstrale geniepsig gloei en seng sy kloue hy vat vlam ek sien hoe geesdriftig is die hitte van sy libido hy vonk hy smelt hy stig vurig kwaad en doelgerig teer hy op lewe soos lewe moet hy om aan die lewe te bly. Dit dan die drogdier Moenie sê dat ek jou nie gewaarsku het nie... dit spook hier. |
|
Diep onpeilbaar diep in die onderwater wêreld dryf ’n waterskilpad walvisgroot en log deurdrenk en geswolle met vog met sap met koue bloed tussen newebeelde fantasmagories vergestalt hy die ou ou stories as hy homself om middernag kwiksilweragtig uit die water sleep en met ’n bloedstollende kreet al wat mens is vreet. |
|
Een oggend het alles afgebrand... ek skryf nou die geskiedenis van die toekoms. ’n Grootprater? Van twyfelagtige karakter? Nooit gesien! ek lees die spooksels in vuur die stominge in water die geaardheid van sterre. ’n kobolt is ek ’n tokkelos aanmatigend miskien maar die swart kraai het my sélf vertel. Verskoon my nuuskierigheid staan jou nekhare orent? kan ek kyk? Ag dis so maklik om dit met die hand plat te stryk. |
|
Stoel is meervoudig. afhangende van my bui verander sy prentjie in my kop van dag tot dag. My stoel vir die dag kan ek nooit voorspel nie. Vandag se stoel byvoorbeeld (net omdat ek verlang) is geelhout en riempies gister was dit seil plus staal (ook net omdat ek verlang het). Iewers weet ek moet daar ’n universele stoel wees wat “stoel” in een en enkelvoud sê sonder tierlantyntjies sodat my stoel ook jou stoel kan word. Ek gaan soek tot ek hom kry wie weet miskien sal ons mekaar dan kan begin verstaan. |
|
Ek veronderstel: As jy vir ’n stoel goeiemore sê dan praat jy met jouself. Ek veronderstel: praat is brabbel tensy die soet prikkel van dink spring van vel na tong en terug tot blink gedagtes in ’n vloed van betekenis golf en met die anker van taal ’n woord kan grondves Ek veronderstel : kontak is van dink na woord van woord nadink en ás ‘n woord die begin was dan sou hy met sy geboortekreet geskree en geskree het "ek hang in die lug byt my vas troetel my met jou tong iemand asseblief" Ek veronderstel: ’n mens sê nie tot siens aan ’n verslete stoel nie jy gooi hom weg. Ek veronderstel: as ’n stoel vir jou goeiemore sê dan ignoreer jy hom. |
|
Daar staan hy op die vloer ’n groen stoel Tevrede om sy gegewe spasie te vul. Streef na niks meer as stoelwees nie. hardloop nie rond op soek na bevrediging of ondervinding of kommunikasie nie. Staan solied bestaan gelykstaande (binne perke) aan oneindigheid. Reg om sy funksie as stoel te vervul reg om oop en ontvanklik te wees. Reg vir besit. |
|
Ywerig leun jy vorentoe jou hande is gehokte voëls een plus een bou en meet en pas jy jou argumente om uiteindelik te postuleer dis mos onmoontlik sê jy om ‘n stoel absoluut te sien en terselfdertyd aboluut aan hom te dink en jy leun terug asof jy pas die wêreld verskuif het en al wat ek kan doen is om te sit en te voel hoe stoel my hart. |
|
Om retories en tog absoluut te sê ek dink daarom is ek om myself te bepeins en te bevoel om my gedagtes te beliggaam en my lyf te vergeestelik net tot op die nerf of bodemskraap om my doen vir dae aaneen te motiveer en in die beweeggrond van my dink te vroetel om my bestaan aan myself te bewys – streel ek my vingerpunte oor my wang kelk ek met arms gekruis ‘n bors in elke hand en ek bly onaangeraak want jy sien ek is omdat ek jou liefhet al is my kop altyd iewers anders. |
|
In die eerste plek glo ek aan onverdeeldheid tussen binne en buite voor die glas, agter die ruite alles een en deel van die groot geheel. In die tweede plek glo ek aan enkelvoudigheid of binne of buite voor die glas of agter die ruite elke fenomeen staan totaal alleen. Maar dan... my geloof was nog altyd aanpasbaar. |
|
Dit wat nie is nie kan nie gedink word nie want niks kom uit niks of alles kom uit iets. Die wording die staanspoor die wegspring veronderstel ten minste ’n sel want vir ’n begin is ’n vorige begin nodig. Sal ek myself dus aan jou onderwerp Of sal ek jou skep? |
|
Nee. Ek tel nie my tone nie. Ek bepeins die beginsel van die dinkproses Ek sit en wag vir net een tydlose gedagte. Ek dink: om te wag vir dinge om gestalte te kry voor ’n mens besluit om te besluit is om alles vanself te laat gebeur en as alles in elk geval vanself gaan gebeur kan ek myself net sowel vermaak kan ek net sowel my tone tel. |
|
Akkoord gaan nie oor feite nie maar beginsels en beginsels kan òf horisontaal òf vertikaal benader word (‘n beginsel kan dus op twee stoele sit) of op die linker- of op die regterboud so skuif-skuif afhangende van hoe gou elke boud moeg word… |
|
dat woorde – steunpilare in die tonnels tussen ons – gestroop kan word en sin verloor hoe moes ek raai dat die holtes tussen mense gevul kan word sonder betekenis hoe moes ek raai dat die rangskik van begrippe my nie noodwendig verstaanbaar maak nie hoe moes ek raai hoe moes ek raai dat jare skoenlappers is dat die hart oud word. |
|
My kop het ’n wye verlede en ’n wyer toekomstige grens wat ten hemele skrei dus wil ek krimp en behoeftig binne perke grond wees of ’n bekrompe grot met stalaktiete wat tydsaam en tranerig groei waar my moer grensloos uitswel saam met mos wat in lae vrot waar die reuk tasbaar en fel oor donker plante en donkerder wande stort waar ek elke oomblik isoleer en volprop tot barstens toe vol en bekrompe die vrugbeginel van vervulling my grot is ’n hok is ’n krot is ’n crèche en in my grot kan ek myself aand na aand aan die slaap huil. |